Dinge begin besonder goed. Die omslag is eenvoudiger en minder geclutter as sy vorige album, wat dadelik ‘n sterker indruk laat (alhoewel die foto self effe futloos is). Alles dui op ‘n meer ernstige album, maar daar’s nog baie van die speelse kant van Abel Kraamsaal te hore hier.
‘Stormweer’ skop dinge met styl af, dis ‘n wakker tune wat vinnig in jou kop kom sediment laat neersif: “knoop jou siel los, hang hom aan die wind/ maak hom vry soos ‘n kind”. Sagter, maar ewe mooi is ‘Stormwolke’, waar veral die kitaarmelodie jou intrek — ek sien die meesterlike Robert Mitchley speel die kitare op die album. Jy sal teen hierdie tyd verskoon word as jy afloer na die laaste snit en sien dat dit ‘Kaalgat In Die Reën’ is en wonder of Abel dalk gepla is met die weer. Maar myns insiens kan daar nooit genoeg liedjies oor die weer wees nie (besides, hierdie liedjies gaan meer oor die ontstuimigheid binne in jou as dit wat daarbuite besig is om oor die land gepleeg te word).
Gepraat van ‘Kaalgat In Die Reën’ — dit was Abel se titelsnit en treffer op sy vorige album en alhoewel hierdie opname daarvan heel anders is, is ek nie seker of dit nodig was om dit weer so prominent uit te stal nie. Dalk as ‘n hidden track, ja, of hou dan eerder die nuwe verwerking vir live shows en gun jou fans iets spesiaals.
‘Mooiste Persoonlikheid’ is Speelse Abel, iets waarmee hy baie goed is, en al word dit soms effens stout (“jou maanlandskap gesig is vol zits”), lyk dit asof sy aanslag lig genoeg bly om daarmee weg te kom. Op ‘n manier is die song bietjie soos Christina Aguilera se ‘Beautiful’, maar meer bespottend (niemand wil weet dat hulle moer lelik is maar steeds ‘n goeie vriend is nie), waar hare opbouend is.
Middeweg Abel kom te voorskyn op ‘Propvol Jou’ en ‘Donkermaan’ — die tipe liedjies wat hy skynbaar sonder enige moeite kan opdis, dis goeie songs, gerieflik soos ‘n ou pantoffel wat jy met gelyke gemoedere aan jou voet sal sit om posbus toe te stap of om die hond te gooi aan die ander kant van die kamer. Moet egter nie vir my vra wat lirieke soos “die kameelperd se nek is langer as wat sy kolle rond is” beteken nie. Vra vir Abel.
Ernstige Abel steek hand op met ‘Onthou Jy My Naam’, ‘n pragtige ballade vol dubbelsinnigheid en misterie. Ek kan egter nie oor hierdie liedjie praat sonder om ook sy woordkeuse met “laat blink jou oë soos kafferkrale” te bevraagteken nie. Ek weet, baie Afrikaanse ‘alternatiewe’ sangers het al die woord “kaffer” in songs gebruik: Anton Goosen, Koos Kombuis en onlangs ook Fokofpolisiekar (op ‘My Lys Verskonings’, word dit in aanhalings gebruik: “Wit Kaffer! Kind! Kont!”). Maar in Abel se song dra die woord “kaffer” absoluut niks behalwe alliterasie by tot die song nie. Daar’s g’n konteks wat die gebruik van die woord hier regverdig nie. As dit dan nou wel die krale van Afrikane was, hoekom dan nie maar sê “Xhosakrale” of “Zoeloekrale” nie? Ek verstaan dat party wit Afrikaanses dalk voel dat die woord “kaffer” gedestigmatiseer moet word, maar ek glo nie hierdie is die regte manier om dit te doen nie.*
Ieder geval. ‘Ek Wonder’ is nog Ernstige Abel, baie mooi met saksofoon en al, maar met ‘n onrustigheid wat iewers onder borrel, asof “en ek belowe ons kan oppak as jy wil” meer van ‘n dreigement as ‘n belofte is. ‘Soos Asem’ het ‘n lekker old school rock-klank, windgat kitaar wat dreun en trop aanjaag – ‘n lekker lovesong vir vasdruk en score.
‘Vir My’ is totally Donker Abel, met Robert wat daai kitaar nou laat neul en Alta Joubert en Lucinda ‘Melktert’ Strydom wat op backing vocals die ding dik aandraai, engelkatte op ‘n muur waarna jy nie durf dooie potplante gooi nie. Ek sou meer Donker Abel wou hoor op die album, maar dit val seker nie in almal se smaak nie. ‘Donkermense’ is ook treffend, nie Donker Abel soos dit mag lyk nie, maar Hoopvolle Abel, want ‘n blymoedigheid trek regdeur sy liedjies so duidelik soos die stippellyn van die CD Wherehouse in die Waterfront af tot by die grenspos in Musina.
'Wonder Jy Ook Soms?' het ‘n stukkie van almal se gunsteling Abel, of jy nou hou van sy funny songs, sy pop songs, sy love songs of sy donker songs. Dit als gee hoop, want as ons nog lank vir Abel Kraamsaal gaan hê, gaan daar ‘n interessante portfolio songs in sy solder (en dalk in jou CD-versameling) begin ophoop.
*Na aanleiding van hierdie review het Abel Kraamsaal die volgende verklaring vir die woordkeuse op 'Onthou Jy My Naam' vir ons gestuur:
"'Onthou jy my naam' is geskryf oor die verlies van 'n vriend, nie aan die dood nie, maar a.g.v. bad vibes. Die hele song is oor die kwaad binne-in onskuld en ja, 'kafferkrale' is lekker op die tong en oor vir alliterasie, maar kafferkrale is actually 'n plant wat net hier voorkom in die droë woestyndele. Hy't 'n gruwelike wetenskaplike naam en sou redelik saai geklink het as ek die ander naam moes gebruik...dis nog een "monument" wie se naam nog nie verander is nie...dalk weet daar regtig min mense van kafferkrale. Selfs RSG het probleme gekry omdat hulle dit gespeel het...plaas hulle verduidelik die storie virrie mense. Die anderkant van die coin is dat kafferkrale nie KAN blink nie, al spray jy hulle met 'n high finish spraypaint...dit is juis om te sê die kafferkrale is so blink soos die vriendskap wat ek in jou oë gesien het...maar wat nou so dof is...kafferkrale is nie 'n mooi plant nie, maar kan seisoene sonder water operate...nie soos party vriendskappe nie...ek gaan nou ophou, ek dink jy kry nou deel vannie picture...